logo for hitechcarsrtb.com

Email

Name



Then

Don't worry -- your e-mail address is totally secure.
I promise to use it only to send you Newsletter.
leftimage for hitechcarsrtb.com

Die Tokai Reg Vir Die Lang Sonnige Pad


Sonlig Gedrewe Tokai Challenger
Die Sonlig Gedrewe Tokai Challenger is slaggereed om die bul by die horings te pak in vanjaar se Suid-Afrikaanse Sonkraguitdaging.

 
Die Tokai Challenger, ’n elektriese voertuig wat slegs deur sonkrag aangedryf word, het verlede week in Gauteng aangekom en sal binnekort wegspring op ’n epiese reis deur Suid-Afrika. Die voertuig is ’n produk van Tokai Universiteit in Japan en die voertuig reis deur die wêreld om aan sonkrag-renne deel te neem. Die Tokai Challenger het onlangs teruggekeer van ’n hoogs suksesvolle ren in Australië.
 
Die Suid-Afrikaanse ren, wat die fokus rig op die gebruik van skoon energie, word wyd beskou as een van die mees uitdagende renne op die internasionale kalender. Naas die mededingende aspek van die ren, bied die ren blootstelling en navorsingsgeleenthede aan wetenskaplikes, ingenieurs en studente in studierigtings wat wyd wissel van voertuigtegnologie en ondernemingsbestuur tot wiskunde.
 
Die Tokai Challenger het uit Japan in Suid-Afrika aangeland te midde van reuseverwagtings. Dié windgladde sonkrag-motor het alle ander mededingers uitgestof tydens verlede jaar se Australiese Wêreldwye Groen Uitdaging, waar die motor meer as 3 000 km naas-foutloos teen ’n gemiddelde spoed van 100.54 km/h afgelê het om sodoende die titel in te palm.
 
Die 2010 Suid-Afrikaanse Sonkraguitdaging skop op Donderdag 23 September af by die Innovation HUB in Pretoria. Hierna sal die ren deur Bloemfontein, Kaapstad, George, Grahamstad, Kokstad, Richardsbaai en Badplaas beweeg voor dit weer op Vrydag 2 Oktober by die Innovation HUB afsluit. Gedurende die ren sal die mededingers 4 200 km afgelê het, met sonkrag as enigste brandstof.
 
’n Vloot Toyota Prius voertuie sal as rugsteun dien vir die Tokai Challenger. Die Prius modelle is deur Toyota Suid-Afrika verskaf en sal gebruik word om Toyota se tegnologiese vooruitgang op die gebied van omgewingsvriendelike voertuigproduksie vir massageproduseerde voertuie te beklemtoon.
 
“Geleenthede soos hierdie maak almal by Toyota opgewonde,” sê Andrew Kirby, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors. “Die geleentheid vier ingenieursvernuf, maar wys ook die toekoms van skoon voertuigtegnologie aan.”
 
“Die strewe na ingenieursuitnemendheid wat die Tokai Challenger ’n kampioen gemaak het, is dieselfde strewe wat tot die skepping van die Toyota Prius gelei het. Dit is ook die dryfveer agter die legio ander Prius-verwante tegnologiese ontwikkelings, soos die gebruik van sonkrag om die Prius aanleg gedeeltelik aan te dryf.”
 
 “Met geen radio, lugversorger of ruitveer nie, is ons sonkrag-voertuie steeds ’n stappie agter modern passasiersmotors,” skerts Professor Hideki Kimura van Tokai Universiteit se Ingenieursfakulteit. “Die tegnologie wat hier ontwikkel word, bied egter onbetwisbare voordele vir die bewaring van die omgewing en hierdie uitmergelende ren gee ons ’n geleentheid om ons voertuig en sonkrag-navorsing verder te verskerp.”



footer for hitech cars page